Geingob tevrede met Angola se verkiesings

Namibiese President Hage Geingob het sy Angolese eweknie, President João Lourenço en sy regerende party, die MPLA, geluk gewens met hul oorwinning in die algemene verkiesing in Angola wat verlede Woensdag plaasgevind het. Geingob sê die mense van Angola het weer eens hul soewereine wil deur die stembus laat seëvier deur die MPLA ‘n mandaat te gee om Angola te lei tot verdere ontwikkeling, vooruitgang en welvaart. Geingob het as voorsitter van die Troika van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, gesê hy is tevrede met die SAOG se Verkiesings-waarnemingsmissie na Angola se bekragtiging van Lourenço se tweede termyn as President en die Angolese verkiesing as vry en regverdig verklaar het.