Voertuig met GRN-nommerplaat betrokke by renosterstropery

Ten minste een regeringsvoertuig met ‘n GRN-nommerplaat was betrokke by die stroop van ‘n witrenoster-bul verlede naweek op ‘n plaas by Gobabis, volgens NamPol. Die Blue Rhino-taakspan, die beskermde hulpbronne-onderafdeling in die Omaheke-streek, en die omgewingsministerie se ondersoekeenheid het leidrade opgevolg. Die voertuig en sy bestuurder is in Gobabis opgespoor, en opvolgondersoeke het gelei na die arrestasie van nog drie Namibiërs in Havana, Windhoek waar hulle petrol ingegooi het. Twee vars renosterhorings is by hulle gekry. Dié drie beskuldigdes het reeds in die Katutura-landdroshof verskyn en hul saak is tot 13 Augustus uitgestel. Hulle sal ook aangekla word vir die renosterstroperysaak in Gobabis. Nog twee Namibiese mans is daarna in Windhoek en Gobabis gearresteer. Hulle het saam met die GRN-voertuig se bestuurder Vrydag in die Gobabis-landdros verskyn en die saak is tot 24 Julie uitgestel. Al die beskuldigdes bly in aanhouding. Verdere aanklagte ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad en die Wet teen Korrupsie sal ook bygevoeg word.