Voëlklip by Heroldsbaai eis nog ‘n lewe

Die berugte krans op Heroldsbaai, Voëlklip, het nog ‘n lewe geëis. Die 50-jarige Bertus van Niekerk, ‘n inwoner van George, is dood nadat sy motor by dié krans afgery het. Christopher Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, sê die George-polisie ondersoek omstandighede rondom die voorval, maar geen gemene spel word vermoed nie. Volgens nuusberigte het ‘n motorfietsryer gesien hoe Van Niekerk oor die rand ry. Volgens Ken Field van die belastingbetalingsverening van Heroldsbaai dui alles daarop dat Van Niekerk sy eie lewe wou neem. ’n Nadoodse ondersoek sal later gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal.