VN-aanklaer sê Rusland, Oekraïne het oorlogmisdade gepleeg

Die voormalige hoofaanklaer van die Verenigde Nasies se oorlogsmisdaadtribunaal vir die voormalige Joego-Slawië en Rwanda het gevra dat ‘n internasionale arrestasiebevel uitgereik word vir Russiese President Vladimir Putin. Volgens Carla Del Ponte is Putin ‘n oorlogsmisdadiger. Sy sê sy is veral geskok oor die gebruik van massagrafte in Rusland se oorlog teen die Oekraïne, wat herinner aan die ergste van die oorloë in die voormalige Joego-Slawië. Ander oorlogsmisdade wat sy in die Oekraïne geïdentifiseer het, sluit aanvalle op burgerlikes, die vernietiging van burgerlike geboue en selfs die verwoesting van hele dorpe in. Del Ponte het bygevoeg dat ondersoeke uitgevoer moet word na moontlike oorlogsmisdade wat deur beide kante gepleeg word, en wys op berigte oor die beweerde marteling van sommige Russiese krygsgevangenes deur Oekraïense magte.