Vlugtelinge verdrink toe hulle probeer om van Libië na Italië te vaar

Die Tunisiese humanitêre hulporganisasie, Red Crescent, sê 43 vlugtelinge het verdrink toe hulle boot aan die kus van die land gesink het. Hulle het probeer om van Libië na Italië te vaar. Die boot het migrante van Egipte, Soedan, Eritrea en Bangladesh aan boord gehad. Meer as 80 mense is gered. Die tragedie volg ná verskeie verdrinkings die afgelope paar maande soos die aantal pogings om die see van Tunisië en Libië na Italië oor te steek vanweë verbeterde weersomstandighede toeneem. Talle van diegene wat die Middellandse See probeer oorsteek, vlug weens die geweld en armoede in Afrika en die Midde-Ooste.