Vier Suid-Afrikaners nog gestrand in Afghanistan

Vier Suid-Afrikaners bevind hulle steeds in Afghanistan, sê dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Pandor het gesê 30 ander het daarin geslaag om die land te verlaat. Dit is volgens inligting van die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Pakistan, wat ook verantwoordelik is vir konsulêre dienste in Afghanistan. Die 30 Suid-Afrikaners wat die land kon verlaat voordat die Taliban Dinsdag finaal die bewind oorgeneem het, is met ontruimingsvlugte wat deur hul werkgewers gereël is na veiligheid gebring. Dié vlugte is hoofsaaklik deur die VSA en Brittanje gereël. Die oorblywende vier Suid-Afrikaners wag steeds op ontruimingsplanne van hul werkgewers, maar die regering het nie onmiddellike planne om die vier Suid-Afrikaners uit die land te neem nie, het die minister gesê.