Vermeende pedofiel se borgaansoek uitgestel

Die borgaansoek van die vermeende pedofiel Johann Maree, sal op 8 September voortgesit word voor die Windhoek-landdros Celma Amadhila. Maree, 50, is verlede jaar in hegtenis geneem op 40 klagte dat hy agt minderjarige seuns tussen 2016 en 2020 verkrag en onsedelik aangerand het. Hy het volgens die staat ook video’s gemaak en dit op die internet geplaas. Hy het in Junie verlede jaar in ‘n verklaring voor Amadhila gebieg en gesê hy het hulp nodig. Volgens berigte het hy die klagtes teen hom erken. By sy Dinsdag-verskyning het hy ’n ommekeer gemaak en gesê hy ontken al die klagte teen hom. Maree is ‘n voormalige polisieman en reservis vir Nampol.