Vermeende moordernaar vry na aanklaer sloer

Die onvermoë van die kantoor van die aanklaer-generaal om klagtes sedert September 2019 teen ‘n moordverdagte te finaliseer, het veroorsaak dat sy saak van die rol geskrap is. Simon Sheefeni, 37 jaar oud, is deur landdros Olivia van der Colff vrygelaat nadat sy in Augustus reeds ‘n finale uitstel in die saak gegee het vir die finalisering van klagtes. Die saak spruit uit die grusame dood van Katrina Kasita, Sheefeni se vriendin en ‘n ma van ses kinders, wat op 21 September dood geslaan is en haar liggaam aan die brand gesteek is. Sheefeni is deur owerhede ‘n paar dae later gearresteer nadat hy weggeraak het en deur lede van die publiek gesien is, met verskeie brandwonde. Die twee se verhouding was volgens berigte gewelddadig.