Clinton ontslaan, sterk by huis aan

Die gewese Amerikaanse president Bill Clinton is uit die hospitaal ontslaan. Die 75-jarige Clinton is Dinsdag in die Irvine-mediese sentrum van die Universiteit van Kalifornië opgeneem weens ‘n infeksie. Hy het skynbaar behandeling ontvang vir ‘n urienweginfeksie wat tot sepsis ontwikkel het. Daar word berig Clinton het aan joernaliste buite die hospitaal met sy duim gewys dit gaan goed toe hy gister saam met sy vrou, die voormalige presidentskandidaat, Hillary, uit die hospitaal gestap het. Hy sal by sy huis in New York aansterk.