Vermeende dagga-smous soek borg

Die Kongolese burger wat die naweek van 12 en 13 Junie by die kus gevang is met 27 kilogram dagga met ‘n straatwaarde van 1,35 miljoen Namibiese dollar, sal vandag in die Swakopmund landdroshof aansoek om borg doen. Gilbert Kalenga, 31 jaar oud is volgens die stukke voor die hof van die Osire vlugtelingskamp. Hy is in hegtenis geneem na ‘n ondersoek wat geheime polisie van die Erongo- en Otjozondjupa-streke ingesluit het. Hy is nie die eerste inwoner van die kamp wat met dwelmhandel verbind word nie.