Verkeersbeampte in hof vir vrou se moord

‘n Lid van die Namibiese polisie wat in verband met die dood van sy vrou op Okakarara in hegtenis geneem is, bly in aanhouding. Die 35-jarige verkeersbeampte verbonde aan die Okakarara-polisiekantoor het vanoggend voor assistent-landdros Ivonne Seibes in die Okakarara-landdroshof op ‘n klag van moord saam met geslagsgeweldwet verskyn. Die saak is tot 16 Junie vir verdere ondersoek uitgestel en vir die beskuldigde om regshulp te bekom. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou aangerand het, waarna sy die volgende oggend in die hospitaal gesterf het. Die beskuldigde en die slagoffer se name word weerhou om die identiteit van hul drie minderjarige kinders te beskerm.