Verkeer in Suez-kanaal weer normaal

Verkeer in die Suez-kanaal is weer normaal nadat ‘n skip wat graan van Oekraïne na China vervoer het,  enjinprobleme ontwikkel het. Die vaartuig se enjin het krag verloor weens ‘n lekkasie in die verkoelingstelsel. Egiptiese owerhede sê die vragskip het nie gestrand of die bodem van die strategiese waterweg geraak nie. Die skip, Gloria, is weggesleep vir inspeksie. In 2021 was die lewensbelangrike waterweg tussen Europa en Asië ses dae lank onbegaanbaar nadat die Ever Given van Taiwan skuins vasgeval het. Die vertragings het miljarde gekos.