Vereniging van Staatsamptenare: Afname in werkloosheid is ‘n druppel in die emme

Die Vereniging van Staatsamptenare in Suid-Afrika sê ten spyte van die werkloosheidsyfer wat met 0,6 persent afgeneem het, moet meer gedoen word om werk te skep. Statistiek Suid-Afrika se jongste verslag dui aan die land se werkloosheidskoers het tot op 33,9 persent verminder vanaf 34,5 persent in die vorige kwartaal. Byna 600 000 nuwe werksgeleenthede is in die tweede kwartaal geskep. Die vereniging se woordvoerder, Reuben Maleka, sê die regering moet voortgaan om meer projekte daar te stel wat werkloosheid sal oplos.