Veediefstal: Die howe laat boere in die steek

Die Namibiese Landbou-unie het gereageer op berigte dat daar tussen die week van volmaan tot 21 Julie 135 000 Namibiese dollar se beeste, gemsbokke ter waarde van 60 000 dollar, en sebras ter waarde van 9 000 dollar in die omgewing van Otjiwarongo, Karibib en Omaruru gesteel is. Boere het ook ongeveer 22 000 dollar bestee op brandstof, wagte en teenstropingseenhede. Veediefstal is reeds ‘n geruime tyd in die nuus met gevalle wat toeneem. Senior Nampol-beamptes het ook reeds verskeie vergaderings regoor die land met boere gehou om die probleem aan te spreek. Piet Gouws, die president van die landbou-unie, sê aan Kosmos 94.1 Nuus die uitdaging lê by die howe waar oortreders op borgtog vrygelaat word.