Veediefstal buite beheer in Omaheke, Otjozondjupa

Die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo sê veediefstal in Omaheke en Otjozondjupa is die spilpunte van veediefstal in die land en voeg by, die situasie is besig om hand uit te ruk. Plaaslike media berig dat daar 750 gevalle van veediefstal tussen Januarie en Oktober vanjaar aangemeld is met die groter meerderheid wat uit die twee streke kom. Volgens Shikongo is 451 diere in Otjozondjupa gesteel terwyl Omaheke 225 verloor het. In Khomas is 74 gesteel. Die Omaheke goewerneur Pijoo Nganate sê in die vorige finansiële jaar is verliese van 6 miljoen Namibiese dollar in die verband aangeteken met 851 gevalle wat aangemeld is. Net vee van 2,1 miljoen dollar is teruggevind. Die Otjozondjupa-goewerneur James Uerikua sê tussen 1 en 19 Januarie vanjaar alleen is vee ter waarde van 600 000 dollar in sy streek gesteel.