Diamantsaak tussen likwidateurs en polisie geskik

‘n Skikkingsooreenkoms is tussen die likwidateurs Dave Bruni en Ian McClaren en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, saam met die veiligheidsministerie, die ministerie van myne en energie, die diamantkommissaris en die meester van die hoërhof, onderteken. Die hoërhofsaak handel oor 14 miljoen Namibiese dollar se diamante. Die twee sê in hul stukke hulle is in 2010 aangestel om die bankrot Bret Investments te likwideer maar, ‘n regsgeding het ontstaan tussen die maatskappy en ander partye en dus, is 2 700,45 karaat diamante, wat bates van Bret Investments was, oorhandig aan die Namibiese polisie vir veilige bewaring wat steeds nie oorhandig is nie. Luidens die ooreenkoms is daar ingestem dat die likwidateurs die eienaars van die diamante is en dat hulle die diamante mag sien en laat valueer. Maar die polisie se ondersoek na die diamante is nog nie voltooi nie en dus moet hulle in die polisie se besit bly. Die partye vra regter Orben Sibeya vir uitstel tot 28 Junie volgende jaar sodat die polisie sy ondersoek kan voltooi.