Vaatz sleep Finansiële Intelligensie-sentrum hof toe

Die bekende prokureur Andreas Vaatz sleep die Finansiële Intelligensie-sentrum, die Bank van Namibië en die finansministerie hof toe oor ‘n boete van 1 miljoen Namibiese dollar wat die sentrum teen Vaatz uitgereik het. In sy stukke sê hy dat hy eerstens geensins betrokke is met geldwassery of terreur nie. Hy voer aan dat hy in kennis gestel is dat hy dokumente moet oorhandig en dat ‘n inspeksie by sy kantoor uitgevoer sal word om nakoming van die wetgewing te bepaal. Hy sê die inspeksie is herhaaldelik uitgestel, en daarna is hy deur die sentrum daarvan beskuldig dat hy die ondersoek vertraag wat hy ten sterkste ontken. Hy sê hy word van erge oortredings beskuldig sonder dat enige oortreding genoem word en daar kan ook geen bewyse vir die beskuldigings verskaf word nie. Hy vra die hof om ‘n bevel te gee dat die sentrum alle bewyse en dokumentasie daarvoor moet indien. Die sentrum sal die saak verdedig maar, daar is nog nie stukke ingedien nie. Die saak kom vandag voor regter Hannelie Prinsloo voor vir ‘n statusverhoor.