Uutoni sê oor vertraging in huurbeheer-wet

Maximalliant Katjimune, parlementslid van die PDM, het die stedelike ontwikkeling-minister Erastus Uutoni in die Nasionale Vergadering gevra waarom hy sy voete sleep om die Wetsontwerp op Huurbeheer na die Parlement te bring. Huur is al vir ‘n geruime tyd ‘n uitdaging in die land met die 1977 Huurordonnansie wat steeds van krag is. Daar is ook geen standaarde of vaste tariewe nie. Die nuwe wetsontwerp word sedert 2017 deur die ministerie hanteer en is vertraag weens regulasies wat nog neergelê moet word. Uutoni het geantwoord dat hulle nou saamwerk met die ouditeur-generaal se kantoor om die wetsontwerp af te handel.