US$100m se juwele in Los Angeles gebuit

Miljoene in juweliersware en edelstene wat aan uitstallers by ‘n kleinhandelskou in Kalifornië behoort het, is in Los Angeles uit ‘n gepantserde voertuig gesteel. Die voertuig was volgens berigte op pad na ‘n bergingsfasiliteit toe die roof plaasgevind het. Tussen 25 tot 30 kaste met stukke wat aan 18 individuele uitstallers behoort het, is gebuit en die waarde word op rondom 100 miljoen Amerikaanse dollar beraam. Terwyl die FBI betrek is, is dit steeds onduidelik hoe die roof beplan is. Volgens berigte kon daar óf opsporingstoestelle op die kaste of voertuig gewees het, of kameras kon op die voertuig versteek gewees het.