Uraan: Geingob sal binnekort span na Leonardville stuur

Daar word berig dat President Hage Geingob binnekort ‘n span na Leonardville sal stuur om ondersoek in te stel en met rolspelers te vergader in verband met uraanontginning. Volgens Geingob is dialoog die antwoord. Die Russiese Uranium One se eksplorasie staan op die oomblik stil omdat landbouminister Calle Schlettwein hul boorpermit onttrek het. Hy het herhaaldelik sy kommer oor die waterbronne in die Stampriet-bekken uitgespreek. Uranium One het die twee ander nodige permitte, die van omgewing en myne en energie, reeds, maar Schlettwein sê geen eksplorasie sal naby ‘n akwifer in Namibië plaasvind nie. Headspring Investment, die Namibiese maatskappy van Uranium One, het hom ook onlangs aan die hof gewend en eis dat Schlettwein bewyse moet lewer oor sy weiering van die nodige permit.