Amushelelo en kie staar verskeie klagte in die gesig

Die arbeidsaktivis Michael Amushelelo, sy mede NEFF-lid Dimbulukeni Nauyoma en die PDM se parlementslid Inna Hengari word op verskeie klagte sedert Dinsdagoggend aangehou. Volgens die Namibiese polisie het die drie wetgewing oor openbare byeenkomste oortree, openbare geweld aangehits, staatseiendom kwaadwillig beskadig toe ‘n polisievoertuig met klippe bestook is, minagting van die hof en die skending van ‘n hofbevel. Adjudant-offisier Silas Shipandeni van die Khomas-polisie het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.

Die polisie sê ook ‘n vierde verdagte is gearresteer omdat hy na bewering homself voorgedoen het as ‘n regsverteenwoordiger. Dit is nie bekend of die groep vandag reeds in die hof sal verskyn nie. Daar is berigte dat die polisie hardhandig was en dat dit onnodig was om enige arrestasies te maak. Volgens beeldmateriaal van die insident Dinsdagoggend, wou die groep protesgangers die perseel verlaat om huis toe te gaan en nie die optog teen werkloosheid te hou nie. Hulle het ook ooreengekom om die week Vrydag weer te probeer om die versoekskrif aan arbeidsminister Utoni Nujoma te oorhandig.