Universiteit Kaapstad werk saam met versekeraars

Die Universiteit van Kaapstad sê hy gee sy samewerking aan sy versekeraars, wie se ondersoek na die brand wat by die Rhodes-gedenkteken ontstaan het, nog in ‘n vroeë stadium is. Die universiteit sê hy is ook besig met ‘n volledige gesondheids- en veiligheids-oudit by die instelling. Die bestuur het intussen ‘n herstelplan van vier fases in werking gestel, waarvan die eerste fase bykans afgehandel is. Dit behels dat studente na hul koshuise terugkeer. Vrywilligers en universiteitspersoneel is ook nog steeds besig om argiefmateriaal in die HW Pearson-gebou en die Jagger-biblioteek te herwin.