Universele gesondheidsplan kom volgende jaar

Plaaslike media berig dat die Namibiese regering na verwagting volgende jaar die universele gesondheidsorgplan sal begin instel. Die plan sal aan almal in die land bekostigbare gesondheidsdienste verskaf. Die direkteur van primêre gesondheidsorg in die gesondheidsministerie, Naemi Shoopala, sê die regering beoog ‘n situasie waar pasiënte nie gedwing word om duisende dollar te betaal om sekere gesondheidsdienste te beveilig nie. Dit sluit ambulanskostes in. Die plan is reeds ‘n geruime tyd onder bespreking en sal na verwagting baie duur wees. Met die heersende ekonomiese uitdagings is daar menings uit sommige oorde dat dit nie nou moontlik is nie. Die gesondheidsministerie sê ook dat die finansiële implikasies van die gesondheidstelsel nog bepaal moet word.