Uitspraak in N$4m skadevergoeding saak vandag

Uitspraak word vandag verwag in die saak waar Mwiza Nyambe en Ishmael Mafale die Namibiese Minister van Gesondheid vir 4 miljoen doller in skadevergoeding dagvaar. Die paartjie sê Nyambe het op 25 Desember 2017 by die Sentraal Hospitaal in Windhoek aangekom. Sy was 9 maande swanger en het gesukkel om asem te haal. Sy is opgeneem en daar is bevind haar baba se hartklop was abnormaal. Sy sou eers ‘n keisersnit gehad het maar die is gekanselleer en sy is die volgende dag geïnduseer. Die baba moes suurstof ontvang en het die volgende dag ‘n aanval gehad. Sy sê die baba is nie hiervoor behandel nie. Hulle is ontslaan en sy sê die baba het traag ontwikkel en het teen September 2018, gereeld aanvalle gekry. Mediese skandering het bevind die kleintjie het tydens geboorte suurstof tekorte gehad en sal nie kan loop, voedsel eet of praat nie. Die paartjie soek 4 miljoen Namibiese doller in skadevergoeding. Regter Eileen Rakow sal die uitspraak lewer.