Uis se watertekorte vra almal se insette

Die inwoners van Uis in die Erongo-streek worstel met ‘n ernstige watertekort-krisis. Die Karibib- en Daurês-kiesafdelings het onlangs vir byna drie dae nie water gehad nie, wat die hele nedersetting, insluitend skole, gedwing het om hul aktiwiteite te beperk. Die waterkrisis, wat algemeen geword het in Uis, Okombahe en Otjimbingwe, is die gevolg van opgedroogde waterdraers, ou waterinfrastruktuur en hardnekkige droogte. Benitha Imbamba, voorsitter van die Erongo-streeksraadbestuurskomitee, het tydens ‘n vergadering op Swakopmund ‘n beroep op belanghebbendes gedoen om saam te staan om die krisis aan te spreek.