Twitter dreig dagvaardiging oor Meta se Threads

Twitter dreig om Meta te dagvaar oor sy nuwe Threads-toepassing. In ‘n brief aan Mark Zuckerberg, Meta se uitvoerende hoof, sê ‘n prokureur vir Twitter die maatskappy het ernstige kommer dat Meta Platforms betrokke is by sistematiese, opsetlike en onwettige aanwending van Twitter se handelsgeheime en ander intellektuele eiendom. Die regsman Alex Spiro, sê Twitter is van voorneme om sy intellektuele eiendomsregte streng af te dwing, en eis dat Meta onmiddellike stappe neem om op te hou om enige Twitter-handelsgeheime of ander hoogs vertroulike inligting te gebruik. Twitter beskuldig Meta daarvan dat hy ou-Twitterwerknemers aangestel het. Elon Musk het getwiet dat kompetisie aanvaarbaar is maar, kullery is nie. Zuckerberg, wat in 2012 laas getwiet het, het in reaksie hierop ‘n meme van Spiderman geplaas wat ‘n duidelike boodskap van nabootsing bevat.