Twee Namibiese mans vas vir geweldsmoorde

Nóg gru-gevalle van geslagsgeweld is in Namibië aangemeld en twee mans is in hegtenis geneem. Die 32-jarige Medisia Taniseb is in die informele nedersetting Donkerhoek op Khorixas in die Kunene-streek glo deur haar 31-jarige kêrel vermoor. Hy het homself aan die Namibiese polisie oorgegee nadat hy glo vir Thaniseb terwyl sy geslaap het drie keer met ’n byl oor die kop gekap het. In ‘n ander voorval is die 36-jarige Shimhanda Mweshipandeka in ’n hut in die Ondjamba Yalala-nedersetting in die Ohangwena-streek aangerand. Hy het op pad na die Oshakati-staatshospitaal aan sy beserings beswyk. Hy is glo verskeie kere met ’n houtstok oor sy hele liggaam geslaan en met ‘n mes gesteek. Die verdagte het glo ook sy 76-jarige ma met ’n houtstok aangerand totdat sy bewusteloos was. Sy is in ’n kritieke toestand in dié hospitaal opgeneem.