Tunacor se aansoek om erwe verdeel Walvisbaai-dorpsraad

Raadslede van die Walvisbaai-munisipaliteit was tydens ‘n raadsvergadering verdeeld oor ‘n besluit om residensiële erwe in Kuisebmond aan Tunacor te verkoop. Tunacor Beperk het aansoek gedoen vir die verkryging van on-opgemete en ongediensde enkelresidensiële erwe om bekostigbare behuising vir hul werknemers te bou. Konsultasies tussen die munisipaliteit en Tunacor het ‘n ooreenkoms opgelewer dat Erf 8635 Kuisebmond die beste by die aansoeker se behoeftes sou pas. Van die raadslede het egter sterk gevoel dat dit meer voordelig vir die munisipaliteit sal wees as Tunacor eerder ‘n ander stuk grond koop, sodat die maatskappy die erwe dan van dienste kan voorsien. Die debat is afgesluit met ‘n stemming waarin die meerderheid gekies het om die vorige aanbevelings te handhaaf.