TUN eis verhoging of staking kom

Die sekretaris-generaal van die Onderwysers Vakbond van Namibië, TUN, Mahongora Kavihuha sê ‘n landwye staking sal plaasvind as onderwysers nie ‘n salarisverhoging ontvang nie. Nes ander staatsamptenare, het onderwysers in jare nie verhogings ontvang nie en volgens die minister van finansies Ipumbu Shiimi, is daar ook nie in die huidige boekjaar daarvoor begroot nie. Kavihuha sê genoeg is genoeg. Alles word duurder en onderwysers kan nie byhou nie. Hy het bygevoeg dat TUN ander vakbonde van staatsamptenare uitnooi om deel te neem aan die staking, sou dit plaasvind. Van die onderwysers het aan plaaslike media gesê of hul salarisse moet op, of belasting moet verminder word. Onderhandelings in verband met salarisse vir staatsamptenare het op ‘n dooiepunt uitgeloop en die kwessie is tans by die Arbeidskommissaris vir oorweging.