Transnet-werkers keer vandag terug werk toe

Die meeste stakende Transnet-werkers sal na verwagting vandag terugkeer werk toe nadat die staking amptelik afgelas is. Dit volg nadat die vakbond Satawu Woensdag sy lede aangemoedig het om hul nywerheidsoptrede te staak. Die organisasie het vroeër die drie-jaar-ooreenkoms wat Transnet en sy grootste vakbond, Untu, onderteken het, verraad teen werkers genoem, maar toe besluit om die staking af te stel hoewel hy steeds met die werkgewer gesprek voer. Die staking wat ‘n paar weke geduur het, het Suid-Afrika se ekonomie na berig word sowat ‘n miljard Suid-Afrikaanse rand per dag gekos.