TransNamib stel drie treindienste in Desember in

In ‘n poging om verkeersopeenhopings op Namibiese paaie hierdie feesseisoen te verminder en Namibiërs van ‘n alternatiewe reiservaring te voorsien, sal TransNamib in Desember drie spesiale treindienste vanaf Windhoek na Oshikango, Walvisbaai en Keetmanshoop instel. TransNamib sê die treindienste bied waarde vir geld en veilige vervoer, terwyl dit die mees omgewingsvriendelike manier van vervoer is. Volgens navorsing van TransNamib is bevind dat daar tydens die afgelope twee jaar ‘n aansienlike toename in passasierstariewe van buskaartjies gedurende die feestyd was. Die woordvoerder van TransNamib sê aan Kosmos 94.1 Nuus daar is boonop vermaak, verversings en gratis WiFi aan boord beskikbaar.