Top-vier van Swapo is eerste minister, haar adjunk en twee kabinetsministers

Namibiese eerste minister, Saara Kuugongwela-Amadhila, haar adjunk Netumbo Nandi-Ndaithwah, en kabinetsministers Frans Kapofi en Pohamba Shifeta is bevestig as die top-vier benoemdes wat deurdring na die November-kongres, waar hulle sal meeding om die gesogte posisie van Swapo se vise-president. President Hage Geingob het die uitslae tydens die Swapo sentrale komitee-vergadering bekend gemaak, nadat partylede gestem het vir die kandidate wat sal meeding vir die posisies van Swapo se vise-president, sekretaris-generaal en adjunk-sekretaris-generaal. Die benoeming van die Oshikoto-koördineerder, Armas Amukwiyu, wat vroeër die week vir die pos van sekretaris-generaal benoem is, is ook bevestig. Amukwiyu sal teen die huidige sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, om die pos meeding. Lucia Witbooi, Evelyn Nawases-Tayele, Uahekua Herunga en Dawid Hamutenya is bevestig as die kandidate wat om die pos van adjunk-sekretaris-generaal gaan meeding.