Tjombe vat nog ‘n saak, aanranding deur wagte by hospitaal

‘n Man wat deur sekuriteitsbeamptes aangerand is omdat hy na bewering sy taxi by ‘n verkeerde parkeerplek by die Katutura-staatshospitaal parkeer het, dagvaar die sekuriteitsmaatskappy Vicmac vir 300 000 Namibiese dollar in skadevergoeding. Die video, waarin die wagte Nestory Shatjohamba aanrand, is in Junie wyd versprei op sosiale media. Prokureur Norman Tjombe in hofstukke sê sy kliënt is geskop, met die vuis geslaan en oor sy lyf geslaan met ‘n metaalstaaf of ‘n sambok. Tjombe voer aan dat sy kliënt sielkundige trauma opgedoen het, sowel as erge beserings, insluitend snywonde en kneusplekke. Sy kliënt het ook verneder gevoel. Die saak is nog nie op die hofrol nie.