Tennis: Spelers by Aussie Ope hoef nie vir Covid-19 te toets

Tennis: Spelers by die Australiese Ope wat aanstaande week in Melbourne afskop sal nie vir Covid-19 getoets hoef te word nie – én sal kan aanhou speel – selfs al het hulle die virus opgedoen. Verlede jaar moes spelers daagliks vir Covid-19 getoets word en moes hulle ook teen die virus ingeënt wees. Die nege-malige kampioen, Novak Djokovic, is kort voor die toernooi uit Australië gedeporteer weens sy standpunt oor inenting. Die toernooi-direkteur, Craig Tiley, sê hulle beveel egter aan dat spelers en personeel wat siek voel eerder by die huis bly. Verlede week het die krieketspeler, Matt Renshaw, voortgegaan om vir Australië te speel in die toets teen Suid-Afrika in Sydney, ondanks die feit dat hy positief vir Covid-19 getoets het.