Inwoners van Kaliforniese kusdorp moet huise ontruim

Die sowat tienduisend inwoners van die Kaliforniese kusdorp Montecito is aangesê om hulle huise te ontruim te midde van voortgesette swaar reën wat in die Amerikaanse deelstaat voorkom. Waarskuwings vir oorstromings en sterk wind is uitgereik vir verskeie gebiede in Kalifornië. Erge reënstorms kom die afgelope dae voor, en die weerdiens voorspel uiterste weerstoestande vir Montecito, asook vir dele van die nabygeleë Santa Barbara en omliggende dorpies. Montecito is geleë aan die voet van ‘n bergreeks wat dié dorp kwesbaar maak vir modderstortings. Die onlangse storms in Kalifornië het reeds twaalf lewens geëis en sowat 120 000 huishoudings is sonder elektrisiteit.