TB steeds hoog, maar daar is vordering

Gesondheidsminister Kalumbi Shangula sê Namibië het verlede jaar 9 200 pasiënte met tuberkulose aangemeld, ‘n toename van 6,9 persent van die 8 604 gevalle wat in 2022 aangemeld is. Hy het by die herdenking van Wêreld TB-dag in Lüderitz gepraat. Shangula sê die TB-situasie in Namibië vra vir verskerpte en vasberade optrede, aangesien die land deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as ‘n land met hoë TB en hoë TB/MIV-las gelys word. Met ‘n jaarlikse voorkomssyfer van 450 gevalle per 100 000 mense, het Namibië tans die 11de hoogste TB-voorkomskoers in die wêreld. Die land se huidige TB-behandeling sukseskoers is 87 persent, net drie persent minder as die teiken van 90 persent. Die Karas-streek het verlede jaar 638 individue geïdentifiseer met TB-verwante tekens en simptome, waarvan 18 individue positief getoets het vir TB en behandeling ondergaan. Shangula sê belegging bly die sleutel tot vordering in die stryd teen TB en melaatsheid.