Onwettige jag, sommer in Eros-koppies!

Die Windhoek polisie ondersoek ‘n saak van onwettige jag nadat twee mans na bewering in die koppies noord van Olof Palmestraat in Eros betrap is met die onafgeslagte karkasse van ‘n koedoe en ‘n gemsbok, ter waarde van 8 000 Namibiese dollar. Volgens die polisieverslag het ‘n reservis wat in Olof Palmestraat woon, ene mnr. Harmse, in die vroeë oggendure van Donderdag ‘n voertuig in die koppies gehoor. Hy het op Eros se CCTV-kameras gekyk en ‘n verdagte voertuig opgemerk, en sy verslag op buurtplatforms en Police One geplaas. Xiphos-sekuriteit het twee wagte na hom gestuur. Hulle is in Harmse se voertuig die koppies in, waar hulle ‘n swart Nissan Navara met vier insittendes raakgeloop het. Twee verdagtes met ‘n geweer het uit die voertuig gespring en weggehardloop. Twee verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle het die onafgeslagte karkasse van die wild by hulle gehad, asook ammunisie. Die polisie is op soek na die twee verdagtes wat weggehardloop het.