Taxi-tariewe is steeds dieselfde

Die voorsitter van die Namibiese Bus- en Taxi-vereniging Pendapala Nakathingo het taxi-bestuurders gemaan om nie hul tariewe met die voorgestelde 40 persent op te stoot nie omdat daar steeds op die regering gewag word vir ‘n besluit oor die aansoek. Nakathingo sê Nabta verstaan dat daar baie druk op die vervoerbedryf is maar, dat die verhoging in tariewe nog nie goedgekeur is nie en dus onwettig is. Volgens berigte vra talle taxi-bestuurders reeds die verhoogde tarief van 19 dollar vir een rit in die hoofstad, op van 13 dollar. Nakathingo sê die publiek sal wel ingelig word oor die nuwe tariewe wanneer dit goedgekeur is. Tot op hede is die huidige tarief van toepassing.