Tafeldruiwe-bedryf groei sterk, verdien N$850m

Namibië se tafeldruiwe-bedryf presteer baie goed met suksesvolle uitvoere jaarliks na Europa en elders. Volgens die jongste verslag van die Namibiese Akkerbouraad, het die industrie baie goeie groei getoon en verskaf tans werk vir 10 215 Namibiërs, waarvan 11 persent permanent aangestel is en 89 persent tydelike poste beklee. In die 2020-2021 seisoen het die bedryf meer as 850 miljoen Namibiese dollar verdien en amper 40 000 metrieke ton uitgevoer, wat ‘n toename van 14 persent teenoor die vorige seisoen verteenwoordig. Meer as helfte is na die EU met 29 persent wat na Brittanje uitgevoer is. Daar is 13 geregistreerde produsente wat net meer as 2 200 hektaar onder besproeiing het.