Sweedse premier bedank 12 ure na aanstelling

Swede het die jongste Nordiese land geword met ‘n vroulike eerste minister nadat Magdalena Andersson tot die pos verkies is. Die 54-jarige minister van Finansies het Stefan Löfven opgevolg nadat hy onlangs bedank het as regeringshoof sowel as leier van die Sosiaal-Demokrate. Volgens berigte is sy gekies nadat sy op die laaste nippertjie ‘n ooreenkoms met die Linkse Party bereik het. Sy moes egter binne 12 ure na haar verkiesing bedank, nadat haar koalisie ineengestort het. Andersson sê ‘n besluit deur die Groen Party om as junior vennoot uit die koalisie te onttrek, het haar gedwing om te bedank.