Eerste passasiersvaartuig sedert 2020 kom aan in Walvis

Namport in Walvisbaai sê die eerste passasiersvaartuig sedert vroeg in 2020 kom vandag by die hawe aan. Met die uitbreking van Covid het die hawe-owerheid maatreëls ingestel in verband met die pandemie maar, skepe het brandpunte van uitbrekings geword en die bedryf het tot ‘n stilstand gekom. Namport sê MS Europa sal twee dae in Walvisbaai vasgemeer wees waarna hy vertrek na Lüderitz. Die vaartuig sal weer op 5 Desember in Walvisbaai aankom. Die MS Europa het 408 passasiers, 275 bemanningslede en het elf verdiepings. Hy is amper 200 meter lank. Nog twee vaartuie sal in Desember die hawe besoek. Namport sê die vaartuie sal ‘n verdere hupstoot aan toerisme aan die kus gee.