Sweedse genetikus wen Nobelprys vir Geneeskunde  

‘n Sweedse genetikus het vanjaar se Nobel-prys vir Geneeskunde ontvang nadat hy die genetiese kode van die Neanderdal-mense ontsyfer het. Svant Pääbo is vereer vir sy navorsing oor die mens se evolusie nadat hy ook die mens se voorheen onbekende familielede, die Denisova, ontdek het. Volgens berigte het Pääbo se werk gehelp om te bepaal hoe mense oor Planeet Aarde versprei het. Die 67-jarige sal prysgeld van meer as 16,2 miljoen Namibiese dollar ontvang. Die ontvangers van vanjaar se ander Nobelpryse vir Fisika, Chemie, Letterkunde en Vrede, sal gedurende die loop van die week aangekondig word.