Swartrenosterkoei op wildsplaas by Grootfontein gestroop
‘n Saak van renosterstropery word op ‘n wildsplaas in die Grootfontein-distrik ondersoek nadat die karkas van ‘n swartrenosterkoei by ‘n watergat gevind is. Die horings van die renoster is nie verwyder nie, maar voorlopige nadoodse ondersoeke op die karkas het aan die lig gebring dat die koei in die maag geskiet is. Volgens die Namibiese polisie in die Otjozondjupa-streek het die renoster vermoedelik aan die kweswond beswyk. ‘n Stuk van die koeël is in die karkas se maag gevind. Geen verdagtes is in hierdie stadium in hegtenis geneem nie en die polisie-ondersoeke duur voort.