Swapo se verkiesingskongres-prosedures was verdag, meen kenner

Daar word onreëlmatighede in die verkiesing van die sentrale komitee van Swapo by verlede week se partykongres vermoed. Die nuwe geverifieerde Swapo-lyste is die naweek bekend gemaak nadat stemme oorgetel is ná klagtes. Uit die 783 stemme was daar 21 bedorwe stembriewe vir die vroulike kandidate en 25 vir die manlike kandidate. Talle hooggeplaastes, soos eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, het nie die aanvanklike lys gehaal nie, maar sy is nou in die elfde plek op die geverifieerde lys. Die minister in die Presidensie, Christine //Hoebes, diplomaat Margaret Mensah-Williams en adjunkminister van landbou Anna Shiweda, het nie die nuwe lys gehaal nie. Politieke analis dr. Ndumba Kamwanyah sê die hele proses was deurentyd verdag.