Nampol vra hulp na transito-roof

Die Namibiese polisie vra die hulp van die publiek om die gewapende rowers vas te trek wat met meer as 1,5 miljoen Namibiese dollar tydens ‘n transito-rooftog in Walvisbaai weggekom het. Volgens Nampol se misdaadverslag is ‘n transito-voertuig van Namibia Protection Services by die Motovac-perseel beroof toe drie sekuriteitswagte deur ‘n onbekende aantal gewapende mans oorval is terwyl hulle besig was om sewe kontantbokse te laai. Die rowers het glo ‘n wit Corolla Quest met ‘n regeringsnommerplaat as wegkom-voertuig gebruik. Hulle het glo ook een nege millimeter Makarov-pistool, ‘n selfoon en ‘n Motorola-handradio by die wagte gesteel.