Swapo-kandidate vry na party-stemme op Otjiwarongo

Die kandidate wat meeding vir die top-drie politieke posisies in die Swapo-party sal na verwagting die 42 afgevaardigdes van die Otjozondjupa-streek besoek en voorleggings doen. Hulle probeer die lede, wat in November die kongres van die party sal bywoon, se harte en stemme wen. Imms Namaseb, Swapo se koördineerder in die streek sê al nege kandidate sal na verwagting Saterdag die partylede toespreek in ‘n byeenkoms wat nie oop sal wees vir die publiek nie. Hy sê elke kandidaat sal toegelaat word om afgevaardigdes vir ‘n tydperk van hoogstens ‘n uur toe te spreek. Die kandidate is Netumbo Nandi-Ndaitwah, Saara Kuugongelwa-Amadhila en Pohamba Shifeta wat meeding vir die pos van Swapo se visepresident, terwyl Sophia Shaningwa en Armas Amukwiyu die pos van sekretaris-generaal betwis. Vir die pos van Swapo-adjunk-sekretaris generaal is die kandidate Uahekua Herunga, Lucia Witbooi, Evelyn Nawases-Tayele en Hamutenya David.