Swakopmunders moet ook krane stywer toedraai

Dis nie net Marientallers en Walvisbaaiers wat water spaarsamig moet gebruik nie. Die munisipaliteit van Swakopmund moedig ook hul inwoners en besoekers aan om water spaarsamig te gebruik om watertekorte te vookom. Volgens die munisipaliteit is NamWater se produksie- en voorsieningskapasiteit vir drinkbare water onder erge druk by sy twee hoofbronne, die Omdel-boorgatskema en die Orano-ontsoutingsaanleg. Die  Orano-ontsoutingsaanleg het ‘n swael-uitbreking ervaar en dit het die watertoevoer na die NamWater-basisreservoir in Swakopmund aansienlik beïnvloed. NamWater is ook tans besig om belangrike elektrisiteits-infrastruktuur te rehabiliteer en om pomp-toerusting by die Omdel-boorgatskema te vervang.