Suid-Afrikaners gaan volgende maand stem in die plaaslike regeringsverkiesings

Alles is weer op koers vir volgende maand se plaaslike regeringsverkiesings in Suid-Afrika nadat die Konstitusionele Hof die Onafhanklike Verkiesingskommissie se aansoek om uitstel van die hand gewys het. Die OVK het die hof genader vir uitstel tot Februarie volgende jaar – ‘n stap wat die ANC gesteun, maar opposisiepartye wyd verwerp het. Die verkiesing gaan nou soos beplan tussen 27 Oktober en 1 November voort. Die DA het intussen die uitspraak verwelkom. Die leier, John Steenhuisen, beskyf die beslissing as ‘n mylpaal-oorwinning vir demokrasie én die land se Grondwet.