Studie kom oor toestand van pad tussen Okahandja en Otjiwarongo

Die Padowerheid van Namibië sal ‘n uitvoerbaarheid-studie oor die toestand van die pad tussen Okahandja en Otjiwarongo onderneem. Volgens die vervoer-hoof van die owerheid, Sydney Boois, is die studie om die tegniese, ekonomiese, maatskaplike en omgewings-lewensvatbaarheid van die B1-pad te bepaal om veiligheid te verseker. Die Otjozondjupa-streek is geïdentifiseer as een van die streke met die hoogste statistieke van padongelukke in die land. Die uitvoerbaarheidstudie kom in die nasleep van Otjozondjupa-goewerneur James Uerikua se beroep dat die B1-pad in die streek opgegradeer moet word. Die streek het gedurende die 2021/22-boekjaar 52 ongelukke gehad, meer as 7 000 boetes van sowat 5,8 miljoen Namibiese dollar is uitgereik, 150 mense is in hegtenis geneem vir dronkbestuur, en nog 460 mense vir ander verkeersoortredings.