Stiefpa gearresteer wat vyf-jarige glo vermoor

Die Namibiese polisie het bevestig dat die vermeende moordenaar van ‘n vyfjarige seuntjie van Walvisbaai in hegtenis geneem is. Die 29-jarige verdagte is die stiefpa van die oorledene, Wilfred Eiseb. Die liggaam van die seuntjie is Vrydagaand omstreeks ses uur in die duine by Narravile deur ‘n verbyganger gevind. Sy kop en bolyf was glo in die duinsand begrawe. Nampol se voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die seuntjie glo deur sy stiefpa van ‘n cuca-winkel in Johanna Bensonstraat in die Tutaleni-informele nedersetting geneem is. Ná ‘n ruk het die ma glo ‘n boodskap van ‘n onbekende nommer ontvang dat sy die lewelose liggaam van haar kind in die duine moet gaan optel. ‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die seuntjie se dood te bepaal.